<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Laat ons koek eet en vrolik wees

 
News : 02 Mar 2014 633 Viewed By Carina Stander 0

‘n Halfjaar gelede het ons jongste welpie, Ilan een oggend met ‘n skor stemmetjie kom sê dat hy dié dag baie graag ‘n blou trein-verjaardagkoek wil hê, dankie. Want as mens 2,5 jaar oud is, kan jy nie juis jou vorige partytjie onthou nie en om nog ses maande te wag, voel soos ‘n leeftyd.
Kort ná ontbyt het Gerrit ‘n kitskoek in die mikrogolfoond gebak wat ouboet Aden versier het met silwer balletjies en bont skuimpies. Ons het Ilan se slaapkamer met ballonne behang en teen nege uur het ons gesin kruisbeen in ‘n kring op die vloer gesit, kersies aangesteek en gesing - elkeen met ‘n blou lokomotief in die kies!
Vandag is Ilan uiteindelik drie jaar oud. Vir sy partytjie later die week wil hy, geïnspireer deur die skreeusnaakse kinderfliek, “How to train your dragon”, ‘n draakkoek hê. ‘n Regte, egte vriendelike draak wat kan vlieg en vlamme spoeg. ‘n Blou drakie wat ‘n blou trein ry – hoe dan anders?
Kort voor my vyfde verjaarsdag het ek myself vreeslik jammer gekry toe Martha Makoba, wat 37 jaar by ons gewerk het, my knaend weggeroep het waar ek deur die sleutelgat van die geslote gastekamer op die plaas wou loer. Ek het gedog my boetie en sussie, ag, die hele ou spul sluit my seker uit oor ek die kleinste is. Eers later het ek besef dat my mense daardie naweek in die geheim hulle kreatiewe kragte saamgespan het om vir my 'n geskenk te kan maak. Die oggend van my vyfde verjaardag is dié verrassing voor my bed staangemaak: 'n tamatiekissie, dwars gedraai en liggroen geverf om 'n pophuis te wees, kompleet met ‘n dakliggie en meubels. Die gedekte tafeltjie van die pophuis was die doppiehouer van Pa se .22-patrone. Die pophuis spieël was eens die ronde spieëltjie van Ma se gesigpoeier. My laerskoolboetie het 'n spoggerige rusbank met omkrulpote uit 'n koeldrankblikkie gesny én koperbruin gespuitverf. My ousus het matte vir die pophuis help sny; die kussinkies en gordyne is omsoom met kant. En die kinderlose Martha het 'n piepklein rokkie vir my handgrootte poppie gehekel - hemelsblou.
Oor ‘n paar dae is dit my jongste se derde verjaarsdagpartyjie en ja, daar sal ‘n draakkoek wees. ‘Ger-slim’ sal weer ‘n maklike resep Google en alles netjies saamklits en ek sal die koek beeldhou: ‘n dinosourus-draak-kruising vol stekels en skubbe, horings en tande, vlamme en vlerke. Daar gaan ‘n mammoet van ‘n springkasteel (geleen by vriende) in die tuin wees. Ons gaan springmielies spring, die agt kindergesiggies soos oerdiere verf en plastiek dinosourus-geraamtes saam met regte beendere onder die blare in die bos versteek, waar die rakkers dit kan “ontdek” en bou. Met die skattejag sal elkeen ‘n groot wit draakeier (paaseier) kry wat hulle met voedselkleursel kan verf. Doodgewone seuntjiepret.
Te midde van sperstrepe en ‘n duisend doenighede, gaan ek twee volle dae dié week aan parytjiedinge wy. Laat ons koek eet en koeldrank drink en vrolik wees, want môre-oormôre is die kinders groot, die pophuise weggepak en al die drake uitgesterf...

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube