Slangteengif op plase?


Date:

12 January 2012

Read:

242 0,0,1,4,1,1,5

Print

Na Mikayla se geval het baie boere in die Noordelike Nuus se lesersgebied navrae aan die koerant gerig rakende slang teengif en die moontlikheid om dit op plase aan te hou.
Ons het reptiel- en slangkenner Arno Naudé genader vir raad. Naudé is nie net voorsitter van die Transvaal Herpetologiese Vereniging nie, maar ook ‘n dosent by die Universiteit van Pretoria se mediese afdeling.
“Die enigste slang met sy eie teengif is die uiters giftige boomslang. Adders, kobra’s en mambas deel dieselfde teengif,” verduidelik hy. “Hierdie teengif word in ampules van 10ml elk uitgereik, teen ‘n gemiddelde koste van R750 per ampule, en ‘n tipiese slangbyt van ‘n giftige slang soos die Mozambiekse spoegkobra of ‘n mamba vereis ten minste 80ml – 100ml teengif.”
“Volgens die hospitaalverslag het Mikayla sowat 20ml slang teengif ontvang,” sê hy. “En daarin lê juis die problem… Teengif word toegedien om die hoeveelheid slanggif teen te werk en word nie op gewig uitgewerk nie – dus moes Mikayla, en enige ander slangbytslagoffer, ten minste 80ml-100ml, slangteengif ontvang het – ek glo indien hulle haar in Ellisras onmiddellik die regte hoeveelheid teengif toegedien het sou sy binne ‘n week weer terug in die sandpit gewees het.”
Noordelike Nuus het Ellisras Hospitaal se hoof uitvoerende beampte Maria Moabelo genader rakende Mikayla se behandeling. “Ons dokters word gereeld opgelei deur ‘n plaaslike kenner op die gebied van slangbyte en -gif en ons het altyd genoeg slangteengif beskikbaar vir gevalle soos hierdie.”
“Ek kan nie bevestig dat Mikayla slegs 20ml teengif ontvang het nie, aangesien ek nie ‘n dokter is nie, maar dit is moontlik dat die dokter die kind se gewig in ag geneem het toe hy die teengif toegedien het.”
Naude se raad aan boere is dat hulle klein groepies van  10 vorm en elkeen R750 bydra tot ‘n ampule – die 10 ampules word dan by ‘n spesifieke plaas gehou. “Indien iemand gepik word en dit is ‘n noodgeval is daar dan teengif beskikbaar en kan deur die slagoffer vervang word wanneer hy gesond is.”
Teengif kan nie net mense lewens red nie, maar ook diere soos beeste, honde en perde s’n! Teengif verval gewoonlik na drie maande, maar kan steeds in geval van nood gebruik word.
Naude raai egter nie aan dat die teengif self toegedien word nie – na ‘n slangbyt is daar genoeg tyd, selfs in die geval van ‘n mamba byt, om by ‘n hospitaal uit te kom en dan met die hulp van ‘n dokter die teengif toe te dien. “Die rede hiervoor is omdat daar ‘n 10% kans is dat die slagoffer allergies vir die teengif kan wees en dan in ‘n anafilaktiese skok  kan ingaan wat sy dood kan veroorsaak – dokters word opgelei en weet hoe om sulke situasies te hanteer.”
Die belangrikste is om rustig te wees, kalm te bly en professionele hulp in te win.
Dink weer… roep die kenners in
Die Mozambiekse spoegkobra eet enigiets wat in sy mond sal inpas, sê slangkenner Arno Naudé, daarom is dit nie snaaks vir hulle om insekte of muise tot in huise in te volg nie. Anders as die gewone wipneuskobra is hy nie sku nie en kan himself verdedig deur te spoeg en te pik.
Aangesien dit nou (somermaande) paartyd is en die slange baie aktief is, is dit belangrik om eerder ‘n kenner te bel om ‘n slang te verwyder as om een self te probeer vang of doodmaak. Hierdie kenners is opgelei in slanghantering, het spesiale toerusting en besit gewoonlik ‘n spesiale permit om slange te kan hanteer en te vervoer.
Giftige slange (mamba's en kobra's ens.) word na Johannesburg gestuur vir die vervaardiging van teengif wat lewens red en nie-giftige slange word gewoonlik by reservate vrygelaat.
“Wyfie slange soos ‘n spoegkobra skei feromone af en indien sy aangeval word – soos wanneer hulle doodgeslaan word – skei hulle meer feromone af wat mannetjies in die gebied nader kan lok,” sê Naudé. “Dus as jy regtig nie anders kan nie en ‘n slangvanger is nie naby nie (hulle is gewoonlik bereid om ver uit te ry om jou te help) maak die slang so vinnig as moontlik dood en gooi hom so 1km van jou huis af in die veld sodat die natuur sy gang kan gaan.”

to comment you need to login first - Login

Nog operasies vir Mikayla

20 January 2012 By Helena Raats
News: Die ooreenkoms tussen Joliene en Mikayla se gevalle stem baie ooreen. Beide is in hul bed twee keer deur ‘n Mozambiekse spoegkobra gepik. Beide was binne ‘n halfuur by die hospitaal gewees.
129 0 Comments

Mikayla: “Ouma, is daar nog ‘n buite?”

12 January 2012 By Helena Raats
News: “Ouma, is daar nog ‘n buite?” So het Mikayla Robbertse, die vyf-jarige kleutertjie wat op 19 Desember 2011 deur ‘n Mozambiekse spoegkobra gepik is, verlede week gevra nadat sy al verskeie pynlike operasies en veloorplantings ondergaan het.
292 0 Comments

Tiener piekfyn na kobra haar twee keer pik

20 January 2012 By Helena Raats
News: Blitse optrede het vir Joliene van Dyk (14), ‘n Graad 8-leerling van Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi, maande se operasies en terapie gespaar nadat sy in die vroëe oggendure van 9 Januarie twee keer deur ‘n Mozambiekse spoegkobra in haar bed gepik is.
91 0 Comments

Mikayla by die huis!

09 February 2012 By Helena Raats
News: LEPHALALE- Dapper klein Mikayla Robbertse wat net voor Kersfees verlede jaar deur ‘n Mosambiekse spoegkobra in haar bed gepik is, is weer terug op eie bodem. Mikayla is Saterdag by die Palm Park Hotel met ope arms en geskenke deur inwoners van Lephalale verwelkom.
43 0 Comments

Mikayla gaan huis toe!

27 January 2012 By Helena Raats
News: Mikayla Robbertse (5) maak goeie vordering en is 27 Januarie ontlaan en kan uiteindelik huis toe gaan. Sy is in Desember twee keer deur ‘n Mozambiekse spoegkobra op die hand en elmboog gepik.
72 0 Comments

Site Navigation

Written By

Recent Author Articles